Categories
Berichten @NL

Die tragedie van Kwa Sizabantoe

Ek was een van hulle wat vir lank op Kwa Sizabantoe gewerk het. Om presies te wees vanaf 1977 tot 1994. Aanvanklik met my hele hart en siel maar teen later jare het ek begin besef ietsie is verkeerd hier. So is ons voort in skynbare vrede en het ons ‘n nuwe lewe kom ooptrap teen die Olifantsrivier. Selfs baie in Namibië gekom en oral oor gepreek – selfs op die draadloos.

Kort voor die wentel van die eeu het ek besef dinge loop skeef op die eens sieraad van die Evangelies-gesindes. So begin ek bronne bymekaar maak en handig ek ‘n navorsing-tesis in oor Kwa Sizabantoe. My bevinding destyds was dat daar ‘n oorbeklemtoning van sekere skrifgedeeltes was ten koste van die onderbeklemtoon van ander waarhede. Die gevolg was ‘n skeeftrekking van die Evangelie. Ons word mos opgeroep om die volle Evangelie te verkondig! As mens verder sou wou gaan kon jy net eenvoudig kyk na die sogenaamde 5 “Solas” van die kerk. Daardie waarhede wat ons vasklou wat soos bakens ons op koers hou. Hier het KSB totaal begin skeeftrek want vir die “Solas” van genade en die kruis alleen was daar nie meer plek nie.

Baie predikante en ander vriende het probeer waarsku maar ongelukkig tree KSB toe terug in ‘n “laer-trek” mentaliteit. In plaas daarvan om in eerlike gesprekke te tree en grondige selfondersoek te doen, beveg die leierskap alle broederlike teregwysings hand en tand. So was dit tot laasjaar.

Meteens begin Dr Peet Botha voorheen registrateur van die kollege op KSB skrywe. Aanvanklik pleitend en met “versigtige” stappe. Weereens gaan die leierskap van KSB in die “laer-mentaliteit”. Soos te wagte, ontstaan daar toe ook binne-gevegte en verval die hele werk in spanning en skeuring.

Een van die groot probleme is natuurlik rondom die leierskap van mnr Erlo Stegen. Enige mens met bietjie onderskeiding kon sien hoe hy verstandelik agteruitgaan. Die eens vurige prediker wat sommer so uit die vuis gemaklik kon praat staan nou star en lees vanaf ‘n dokument. Ongelukkig is hy onsamehangend en dikwels herhaal hy sinne. Soveel so dat andere al moes ingryp tydens die erediens want mnr Erlo Stegen kom nie tot by die einde van die voorbereide dokument nie. Dit is so ‘n tragedie en laat dink mens aan die ou sprokie van die koning wat almal om hom oortuig het van die lof van sy pragtige kleed – intussen was hy kaal. Slegs die hofnar het die moed gehad om hom op sy naaktheid te wys. Miskien is ek ‘n nar – dit kan uself oordeel.

Die hartseer van die saak is dat ‘n sekere Lidia Dube wat beweer sy het eenmaal gesterf en Jesus gesien in die hemel, op die pas afgelope Hemelvaartdag, ‘n skreiende toespraak gelewer het in die pragtige kerkgebou van KSB. Vir ure aaneen besing sy haar eie lof en doen daarna ‘n skokkende aanval op onder andere menere Friedel en Arno Stegen. Laas Vrydag kon die twee eerbare manne nie meer die druk hanteer nie en bedank hulle beide uit leierskapposisies van KSB. So dryf die bootjie nou roederloos verder.

Intussen word daar in-diepte ondersoeke gedoen na die finansies en bestuur van KSB en skokkende bewyse kom na vore. Miljoene rande se fondse wat net “verdwyn” het, moontlike geldwassery en reuse kontant bedrae wat in sakke heen en weer gevlieg word om aan agente van die “Hollandse koningin” af te lewer. Aan die een kant is dit lagwekkend maar dan kyk mens na die erge hartseer en diepe ontnugtering van baie lidmate en mede-werkers van KSB. In hope verlaat hulle nou die sinkende skip. KSB het verval tot ‘n toksiese kultus.

Mag die Here ons almal genadig wees en mag ons waak en bid en let op ons leer en lewe.

U kan gerus meer lees oor die hartseer verhaal op die blog van Dr Botha by  https://themissionary.blog.

Daar is ook baie goeie inligting beskikbaar op die webwerf van mnr Albert Pillon in die Nederlande by www.ksb-alert.com.

U is ook welkom my persoonlik te kontak.

Koos Greeff