Categories
Berichten @NL

Klag van verkragting ná 37 jaar ingedien

Sy is uitgekryt as ’n “hoer” en ’n “prostituut” en dat sy daarvoor gesoek het toe sy 37 jaar gelede vir ’n kerkleier by die KwaSizabantu-sendingstasie vertel het sy is verkrag, beweer ’n 50-jarige voormalige lidmaat van dié kerk.

Die kerkleier het haar verbied om met enigiemand daaroor te praat, sê die vrou. Sy het verlede jaar ’n klag van verkragting teen ’n senior lidmaat by die polisie in Ballito in KwaZulu-Natal ingedien. Die verdagte se naam is aan Rapport bekend, maar word op regsadvies verswyg.

KwaSizabantu bedryf ’n suksesvolle aanleg waar aQuellé- gegeurde water gebottel word.

Daar word ook avokadopere en soetrissies verbou en verpak vir onder meer Woolworths.

Sowat 800 mense woon en werk op die sendingstasie.

Sy was 14 en het nie verstaan wat gebeur het nie.

Rapport het in Desember berig dat ’n voormalige lidmaat glo twee maande lank in ’n kamer by die sendingstasie toegesluit is en deur ’n senior kerklidmaat verkrag is om haar “van haar sondes te verlos”. In September het Rapport berig dat voormalige lidmate glo met lyfstraf gestraf is, soos slawe moes werk en voorgesê is met wie hulle mag trou.

Oudlede van die sendingstasie het toe kerkleiers daarvan beskuldig dat hulle miljoene rande van die sendingstasie laat verdwyn het.

KwaSizabantu het al die bewerings ontken.

Die vrou wat die verkragtingklag ingedien het, sê sy het destyds nie verstaan wat met haar gebeur nie omdat sy absoluut niks van seks af geweet het nie.

“Dit was die sendingstasie se beleid dat seks en die gevolge daarvan eers op ’n paartjie se trou-aand aan hulle verduidelik word. Enigeen wat nie getroud was nie het daarom geen kennis van die seksdaad gehad nie,” sê sy.

Sy vertel sy was 14 jaar oud toe haar verkragter haar genooi het om saam met hom motorfiets te ry. Hy het haar toe in die veld verkrag.

“Hy het op sy motorfiets weggery en my daarna alleen gelos. Ek het agterna in ’n bad vol bloed gesit en gehuil – al het ek nie verstaan wat met my gebeur het nie.”

Die vrou sê dis die gebruik by die sendingstasie dat jy alle sondes en indiskresies aan ’n sogenaamde berader moet verklaar wat aan jou toegewys is.

“Ek het ná ’n tyd besef dat iets verkeerd was en ek het my berader vertel wat gebeur het. Die betrokke persoon was nie getroud nie en was self onkundig oor seksuele aangeleenthede. Hy het my toe na ’n kerkleier verwys.”

Sy sê die leier se reaksie op haar “belydenis” was dat sy vir niemand – nie eens haar ouers – daarvan mag vertel nie.

“Hy het gesê ek is die skuldige party, en my as ’n hoer en ’n prostituut uitgekryt.”

Sy sê die leier het nooit vir haar ondersteuning gekry nie en daar is geen poging aangewend om die owerhede in kennis te stel dat sy verkrag is en dat ’n misdaad gepleeg is nie.

In 1993 het dieselfde kerkleier ’n stokkie voor haar troue probeer steek. Volgens die sending se beleid moes haar man toestemming by die kerkleier kry om met haar te trou. Sy versoek is geweier.

“Die betrokke kerkleier het dit toe goedgedink om vir hom te sê dat ek nie meer ’n maagd is nie.”

Haar man het besluit om steeds met haar te trou, al het sy ouers met die leiers saamgestem, sê sy.

“My man se besluit het daartoe gelei dat hy van sy gesin geskei is en hy het die afgelope 27 jaar geen kontak met hulle gehad het nie.”

Die slagoffer sê daar is baie redes waarom dit haar 37 jaar geneem het om na vore te kom.

Daar was niemand wat haar storie kon staaf nie totdat sy verlede jaar vir die eerste keer met haar voormalige berader kon praat nadat hy self die sending verlaat het, sê sy.

“Dit was vir my ’n groot verligting toe hy my storie bevestig het. Ek het uiteindelik iemand aan my kant gehad.”

Sy sê sy het intussen gehoor dat nog mense verkrag is en dat dit toegesmeer is. “Ek voel verantwoordelik. As ek vroeër iets gesê het, sou ander moontlik gespaar gewees het en nie dieselde trauma beleef het nie,” sê sy.

KwaSizabantu sê in ’n verklaring dat hulle enige ondersoek oor die saak verwelkom.